Sunday, June 14, 2009

Hanlie Retief gesels met Natasha Sutherland


Say it with a sting.....

13/06/2009 15:53 - (SA)
Hanlie Retief gesels met Natasha Sutherland








“Die ysprinses het gesmelt. Ek.”

Sjoe, en hóé. Natasha Sutherland is tssst. Sy’s vuurwarm.

Die fotograaf se kamera kliek-kliek-kliek.

Haar trui skuif af, liggies, wys ’n heuningskouer.

Haar hande gly oor haar perfekte lyf, net sodat ons presiés verstaan: dié lyf, dié mens, dié siel was vasgevries in ’n Ground Zero-huwelik, yskoud op Planeet Steve.

’n Baie, um, bedrywige planeet gewees daai. Oorvol.

Dis hoe dit was met die Hofmeyrs: Hoe warmer Steve Hofmeyr geraak het, hoe meer statig, stylvol en stywelip was sy vrou.

Vuur en ys, sê sy.

“Ek wou myself beskerm, maar ek besef nou eers dat ek te ver gegaan het. Ek het selfs my vriendinne weggestoot. Hulle vertel my nou ek was ’n spookbeeld van myself.”

Die ware Natasha, die oud-Natallertjie met ’n passie vir die Sharks en die verhoog, op sewe ’n soete bonbon in Die Neutekraker, later die beeldskone Sam ?Ryan in Egoli – van háár het daar deur al die Steve-skandes-en-sensasies min oorgebly.

“Ek het niks gehad om te sê nie. Maar nou’t ek ’n storie om te vertel. My eie.”


Haar biografie, Bittersoet, is dié naweek op die rakke. Sy’t ’n webruimte, ’n rubriek, sy blog, sy’s hoogs in aanvraag as spreker voor vrouegehore, beplan interaktiewe werkswinkels – met die eerste se tema: “Hell hath no fury like a woman scorned”.

Natasha is op haar eie waarmakertoer. En sy hoef nie eens “Pampoen” te sing nie. Sy’t die ster op haar eie verhoog geword.

Hoe sê hulle? Revenge is a dish best served cold.

“Ja, dis nogal ironies, maar dis regtig nie wraak nie. Steve was maar net die katalisator daarvoor.”

Wat sê Steve oor alles?

“Jy sal hom moet vra. Hy’s minder gelukkig.”

Op sy blog spoeg Steve oor sy ekse wat nou so biografieë skryf (Janine van der Vyver en Natasha): hul “arrogansie is grensloos as hulle dink dat die publiek enigsins in hul storie sou belangstel sónder hoofstukke oor daardie ou media-agent genaamd ?Steve”.

Sy frommel haar fyn neusie.

“Hy’s op die oomblik lelik met my. Maar ek kon dit nog altyd regkry om nié sy aas te gryp nie.”

Maak dit seer?

“Sjoe, dis moeilik. Ek ís nog lief vir hom. Stel dit so: ek swaai nou my eie vlag hóóg. Sy klappe krý ’n ‘ieeee!’ uit my ego, maar hoe meer ek in myself glo, hoe minder kry ek seer.

“Wie weet,” begin sy giggel, “hy sal my nou seker híéroor ’n groot potskoot gee op sy blog!

“Maar ek het nie meer sy goedkeuring nodig nie,” daag die woudgroen oë uit.


So perdalks het Natasha nou die plakkaatpop geword vir vroue met jeukerige mans.

(En sy geniet die nasionale simpatie, brom Steve op sy blog.)

Vroue keer haar deesdae in parkeerterreine voor, jong meisies in restauranttoilette … “die terugvoer is ongelooflik. Ek voel ek maak kóntak met vroue. Op my blog skryf een: jou pyn word die medisyne vir ander vroue.”

Selfs Janine en die ander Steve-ekse – ook met húl pyn – kan baat vind by haar inspirasieboek?

“Ek wil liewers niks oor haar sê nie. Ek het haar nog nooit ontmoet nie, nooit die hewige blog-gevegte tussen haar en Steve gevolg nie. Ek probeer net fokus op myself.”

As sy gaan krap deur die donker argiewe van die laaste paar jaar, onthou sy: “Jy kom op ’n plek waar als so erg is jy flatline emosioneel.”


Dit was die Groot Kahuna, Steve en Janine se affair, wat daardie afgebinde senuwees uiteindelik weer laat léwe het.

Dit was onverwags soos ’n donderskoot, sê sy. “Maar ’n vrou weet instinktief as haar man ’n affair het.” Daar’s altyd éérs die weerlig.

“Eintlik wil jy niks van die hele, aaklige ding weet nie. Toe die Groot Waarheid my uiteindelik tref, toe val alles in plek.”

Boonop was Steve en Janine ’n nommer (38DD?) nog vóór hy en Natasha ewige trou op die Maagde-eilande gesweer het.

Natasha was altyd die “derde een”? Wat dit nogal beknop maak in ’n huwelik, soos prinses Diana gesê het?

Sy knik.

“Ek kan met Diana vereenselwig. Die verraad was wyd en diep en seer. Maar as jy wil aanbeweeg, móét jy daaroor kom.”

Sy moes tog geweet het waarvoor sy haar inlaat, dat ’n ring nie haar “super-heteroseksueel” (soos sy Steve noem) gaan inperk nie?

Sy wás bang dat hy ’n affair sou hê, erken sy. “Ja, maar ek het verby hoop gehoop dat dit nié sal gebeur nie.”

Planeet Steve was ’n Cadillac vol celeb-mense, celeb-dinge, celeb-skandes.

“Ek het geweet wat op my wag toe ek getrou het. En ek neem ook verantwoordelikheid vir ons verbrokkeling. Ek skryf daaroor in my boek.”

Sy glimlag as sy daaraan terugdink, wyd, tot die klein-klein gleufie tussen haar tande wys.

Op ’n spieël teen haar muur staan geskryf: “you’re perfect”. Nét sodat sy dit nie vergeet as sy verbystap, op pad voordeur toe nie. Draadletters spel “Joy” teen die groen muur. “Peace” in die gastetoilet. Aanmoedigings, bevestigings.


Dit gaan nou goed met Sebastian (7) en Benjamin (5), sê sy ligweg. “Hul grootste vrees was dat hulle nie meer hul pappa sou sien nie. Maar ons bly naby mekaar, hulle sien Steve drie, vier keer ’n week. My vriendinne en hul maatjies bly hier om ons in Midrand.”

Stoffel, die gemmerkat, kom skuur teen haar bene. Die reuse- Barrichello, hul nuwe Deense hond, volg Natasha soos ’n verliefde groupie. Natasha het haar oor hom ontferm nadat sy vorige eienaar skaars twee weke gelede dood is in ’n motorongeluk.

Dis nie ’n huis wat ’n versierder uit Weylandts aanmekaar geklap het nie. Dis ’n kuierplek – houthoenders en draadskape en leunstoele oorgetrek in ou matrasmateriaal. ’n Kaggelwarm heelwordkokon.

“Maar my eerste alleenmaande hier, og, was in een woord vreesaanjaend. Januarie nog was ek klinies depressief, moes ek ba?klei teen daai stemmetjie: Jy’s 38, jy’s alleen, jy’s ’n flop. Ophou blaai deur foto-albums van gelukkiger tye.

“Ophou vra: was ek régtig, régtig so pateties dat hy na soveel ander vroue moes gaan?

“Daar kom ’n tyd dat jy moet sê: genoeg. En toe ek dit regkry … joe, dis ’n fenomenale oorwinning. Ek sien myself nie meer as slagoffer nie.”

Vroeër, as sy saans die trappe afgesluip het wanneer die kinders slaap, het die stilte en eensaamheid haar soos ’n wolk omvou.

“Deesdae draf ek die trappe af en sit musiek op. Gryp ’n stuk neutsjokolade. Loop hier rond in my panties.”

Sjokolade. Sy (“en my dye!”) bedank Toblerone in haar boek.

Musiek. Kings of Leon. Jazz. Diana Washington. Maria Callas. Mika. Gwen Stefani.

Nie Steve Hofmeyr nie? Huh-uh, giggel sy ondeund. (“Maar die seuns het sy CD’s daarbo.”)

O ja, en dán meng sy vir haar ’n Claire Blanche by daardie lieflike ou kroegtoonbank uit die Springs-hotel. Daai einste afgedopte, lendelam een waarmee sy destyds opgewonde by Steve aangekom het met “ek’t geloof in dié ding!”

Met die honde om haar, trek sy saans haar skootrekenaar nader en skryf die nag in. Ironies was dit Steve wat, skaars ’n jaar terug, laatnag aan die blog was in hul stil huwelikshuis.

Ja, knik sy. “Dis hoekom ek skryf oor die eensaamheid in ’n huwelik. So baie getroudes ervaar dit.”


En hóé voel dit om weer te soen, Natasha?

Sy skaterlag.

“ ’n Paar maande ná ek weg is van Steve het ek begin dink: O aarde, een of ander tyd sal ek seker weer moet soen. Ek het heeltemal vergeet hoe!

“Ek probeer toe al my soene in sepies en op TV onthou. Gaan google: hoe om te soen. Jis, en spring daar toe ’n klomp wéird goed uit!

“Soorte soene, hoe om ’n Franse soen rég te doen, jou tong só, jou mond sus – dis soos ’n sci-fi-riller! Ek dag: nooit weer soen ek nie!”

Haar mondhoeke lig: “Maar toe die kans kom om weer te soen … was dit natuurlik en spontaan.”

Flash Gordon is haar skuilnaam vir haar nuwe njammie vlieënierkêrel. Die ou oor wie Steve vir haar wou SMS: “You’ve left my sky for one that gives u flying …”

Flash, seg Natasha, is ’n goeie soener. “ ’n Góéie soener.”

Flash kook ook graag vir haar. “Sy filet met lemmetjie is lieflik. Dié naweek gaan hy vir my beesstert maak.”

Sy was destyds só verlief op Steve jy kon haar pienk verf, in ’n hartjie sny en aan die krismisboom hang. Vertel sy graag.

Sal sy óóit weer so kan liefhê?

“A, selfs béter! Ek het soveel geleer. Ek kan nou briljant liefhê, en briljant liefgehê word.”

Wat was die ergste van alles, alles, alles?

“Dat my gesin opgebreek het.”

Sy begin die sin dapper, dan frommel haar moed.

“Sjoe, nou wil ek huil. Maar dít was die ergste vir my. Ek kon nie loop voor ek nie in my hart gewéét het: Daar’s geen ander uitweg nie.”


Die dae word nou afgetel tot die egskeiding. “Sover het hy regtig mooi na ons omgesien.”

Sy dink nogal baie aan wat sy op haar skeidag gaan doen.

“Dit sal ’n baie hartseer dag wees, dink ek. Soveel as wat ek kan sê ek het aanbeweeg, bly my hart seer.

“Ons was ’n samekoms van twee mooi siele, ek en hy. En juis daarom is dit ’n hartseer vaarwel.”

Sy kyk hartseer na my.

Maar héél. Warm.

’n Vrou wat van ’n rondloper, finaal, ’n tuisblyer sou kon maak.

) www.bittersoetboek.co.za

Rapport

Hotter than HELL!

Labels:

0 Comments:

Post a Comment

Subscribe to Post Comments [Atom]

<< Home